Pierre Boulez

Boulez in 1968

Pierre Louis Joseph Boulez (Frans: [pjɛʁ lwi ʒozεf bulɛz]; 26 Maart 1925 – 5 Januarie 2016) was 'n Franse komponis, dirigent, skrywer en stigter van verskeie musikale instellings. Hy was een van die mees dominante figure van die na-oorlogse klassieke musiekwêreld. [1]

Hy is gebore in Montbrison in Frankryk se Loire département as die seun van 'n ingenieur. Boulez het aan die Paryse Konservatorium onder Olivier Messiaen studeer, en privaat klasse gehad onder Andrée Vaurabourg en René Leibowitz. Hy het sy professionele loopbaan in die laat 1940's begin as musiekdirekteur van die Renaud-Barrault teatergeselskap in Parys. Hy het as jong komponis in die 1950's spoedig een van die voorste figure op die avant-gardemusiektoneel geword en 'n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van integrale serialisme en aleatoriese musiek. Hy was vanaf die 1970's 'n pionier in die elektroniese verandering van instrumentele musiek. Sy geneigdheid om sy vroeëre komposisies te verwerk het tot gevolg gehad dat sy voltooide oeuvre relatief klein is, maar dit sluit stukke in wat deur baie as bakens van twintigste eeuse musiek beskou word, soos Le Marteau sans maître, Pli selon pli en Répons. Sy kompromislose toegewydheid aan modernisme en die polemiese toon waarin hy sy musikale oogpunte uitgedruk het, het tot gevolg dat sommige hom kritiseer as 'n dogmatikus.

Tesame met sy aktiwiteite as komponis was Boulez een van die mees prominente dirigente van sy generasie. Gedurende sy loopbaan van meer as sestig jaar was hy die hoofdirigent van die BBC Simfonieorkes en musiekdirekteur van die New York Filharmoniese Orkes, musiekdirekteur van die Ensemble intercontemporain, en hoof gasdirigent van die Chicago Simfonieorkes en die Cleveland Simfonieorkes. Hy het gereeld saam met die wêreld se grootste orkeste opgetree, insluitende die Weense Filharmoniese Orkes, die Berliner Philharmoniker en die Londense Simfonieorkes. Hy is veral bekend vir sy uitvoerings van musiek uit die eerste helfte van die twintigste eeu—insluitende Debussy en Ravel, Strawinski en Bartók, en die Tweede Weense Skool—sowel as dié van sy tydegenote soos György Ligeti, Berio en Elliott Carter. Sy werk as dirigent van operamusiek sluit die Jahrhundertring—die opvoering van Wagner se Der Ring des Nibelungen vir die eeufees van die Bayreuth-fees—en die wêreldpremier van die driebedryf-weergawe van Alban Berg se Lulu in. Sy nalatenskap as opnamekunstenaar is enorm.

Hy het 'n aantal musikale instellings in Parys op die been gebring soos die Domaine musical, die Institut de recherche et coordination acoustique/musique (IRCAM), die Ensemble intercontemporain en die Cité de la Musique sowel as die Lucerne-fees Akademie in Switserland.

  1. Decalf, Guillaume (9 Augustus 2018). "Mort de Jeanne Boulez-Chevalier, soeur de Pierre Boulez". France Musique. Besoek op 10 Augustus 2018.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy